- Administrasie
Die kantore van Loskop Besproeiingsraad is geleë by Klipbank B237 regoorkant Aquaville ±4km vanaf Groblersdal. Alle administratiewe take word deur 'n personeelkorps hanteer. Die meeste van die funksies wat deur die personeel verrig word is gerekenariseerd.- Waterverdeling
Die waterverdeling geskied op 'n aanvraagstelsel. Die skema is ingedeel in 8 wyke. Twee hoofkanale, naamlik die linker- en regterbank, voorsien die water aan die verskillende wyke wat op hulle beurt die water verdeel na die persele. Die doel van waterverdeling is om water op 'n spesifieke tyd vir 'n voorafbepaalde tydperk teen 'n vasgestelde vloeitempo by 'n sekere punt beskikbaar te stel tot die beste voordeel van die gemeenskap, naamlik die besproeiers.- Onderhoud en Konstruksie
Soos uit bogenoemde afgelei kan word, sal daar uit die aard van die saak heelwat instandhouding asook herstelwerk gedoen moet word aan strukture en kanale. Hiervoor is daar huidiglik 'n onderhoudsafdeling wat gemoeid is met genoemde konstruksie en herstelwerk. Ter verduideliking die volgende:
- Herbelyning van kanale wat deur verandering van grondformasies verskuif word.
- Herbekleding van bestaande kanale wat as gevolg van verwering nie meer aan die vereistes voldoen nie.
- Vervanging van strukture wat as gevolg van slytasie en verwering nie meer akkuraat water lewer nie.
- Instandhouding van spoelwalle wat kanaalstelsels teen vloedwater beskerm.
- Nuwe werke soos van tyd tot tyd benodig.
- Werkswinkel
Alle instandhouding en herstelwerk aan toerusting en voertuie word deur die Raad se eie personeel gedoen. Die vloot bestaan uit 14 ligte voertuie, 10 motorfietse en 25 swaartoerusting en -masjiene.- Personeel
Daar is 'n bestaande personeelkorps van 66 werknemers. Aan beheer van sake is 'n Algemene Bestuurder wat bogenoede 4 afdelings bestuur. Hy is direk verantwoordelik aan die Raad. Bogenoemde afdelings het elk hul eie bestuurder en personeel. Alle water aan die Raad vir verspreiding word deur die Minister van Waterwese en Bosbou toegeken. Die Raad doen verslag aan die besproeiers en is ook verantwoordelik vir sy optrede aan die Minister van Waterwese en Bosbou. Die Raad werk dan ook nou saam met die Departement van Waterwese en Bosbou.