Loskop Waterskema

Loskopdam wat op die plase Loskop en Vergelegen gebou is, is geleë in die Olifantsrivier ongeveer 32km suid van Groblersdal in Mpumalanga, waar hierdie rivier deur 'n nou poort vloei. Die Olifantsrivier ontspring naby Bethal in die suidooste van Mpumalanga en vloei in 'n noordelike rigting tot by Middelburg voordat dit noordwes draai na Loskopdam. Die samevloeiing van die Olifantsrivier met die Wilgerivier, die hoofsytak, vind 24km stroomop van die damwal plaas.
Die grootste gedeelte van die opvanggebied is op die Hoëveldplato op 'n hoogte van meer as 1 500m  gemiddeld bo seevlak : die ander gedeelte is teen die hange van die plato in die Laeveld geleë. Die vernaamste dorpe in die opvanggebied is Middelburg, Bethal, Delmas, Witbank en Bronkhorstspruit.
Die gemiddelde jaarlikse afloop beloop ongeveer 451 miljoen m3. Die opvanggebied van die dam beslaan 12 300km2 en die wateroppervlakte by volvoorraadhoogte is 2350 ha. Die damkom word onderlê deur genate felsitiese rots. 

Beskrywing

Loskopdam is in 1938 voltooi en die wal is in 1979 verhoog. Dit is 'n massabetonwal met 'n ojiefkruinoorloop. Die huidige wal is 54m hoog. Die totale kruinlengte is 506m waarvan die oorloopgedeelte 244m lank is. Weens die swak fondasietoestande op die regteroewer is 'n gedeelte van die regterflank met 'n hoek van die damwal af weggebou waar harder  gesteentes  gevind is. Die oorspronklike Loskopdam is die eerste dam waar stroombrekers aangebring is aan die stroomafkant van die wal om die kinetiese energie van die oorloopwater te verminder en te versprei. Die stroombreker-idee is ontwikkel deur It.-kol. D.F. Roberts (die destydse plaaslike ingenieur) van die Department se heel eerste hidroulikalaboratorium op die oewers van die Olifantsrivier by die damterrein.
Die verhoging van 'n betondamwal moet met omsigtigheid hanteer word. Wanneer so 'n wal verhoog word, moet die wal gewoonlik ook dikker gemaak word. Die ideale omstandighede vir 'n damwalverhoging van dié aard sou wees terwyl daar geen spanning op die struktuur is nie (dit is terwyl die dam leeg is), en dan ook op so 'n wyse dat die nuwe struktuur onbelemmerd kan inkrimp sonder om spanning op die bestaande struktuur oor te dra. Tog moet die geheelstruktuur uiteindelik as 'n hegte eenheid fungeer. In die praktyk is dit kwalik moontlik om gedurende die verhoging die spanning op 'n damwal uit te skakel, aangesien kosbare opgegaarde water nie sommer net losgelaat kan word nie. Dit sou dus kon gebeur dat die lading wat deur waterdruk veroorsaak word in die bestaande struktuur tesame met spanning veroorsaak deur krimping van die beton in die nuwe struktuur, ongehoorde spanning in die totaIe vergrote struktuur tot gevolg kan hê. Om sulke spanning te beperk, moet spesiale voorsorgmaatreëls getref word.
In die geval van Loskopdam is die gewenste resultaat verkry deur die beton in drie afsonderlike fases te giet. Vir die eerste fase is die betonvlak van die onderste gedeelte van die damwal skurf gemaak deur afbeiteling om 'n hegte verbinding met die nuwe beton te bewerkstellig. Hierna is die nuwe beton tot by die voorafbepaalde hoogte gegiet en toegelaat om hard te word sodat inkrimping kon plaasvind. In die onderste gedeelte van 'n bestaande damwal is die normale spanning sodanig dat krimping langs 'n hegte las geen ernstige probleme veroorsaak nie.
Vir die tweede fase is 'n skuiflas gemaak op die voegvlak tussen die ou en die nuwe beton deur witkalk op die betrokke deel van die oorspronklike betonvlak van die damwal te verf. 'n Dreinering­stelsel is ook aangebring om water wat moontlik in die voegspasie sou kon insypel, te dreineer en dus die moontlike opbou van druk tussen die ou en die nuwe beton te voorkom. Nadat die beton vir fase twee gegiet is, is daar vir sowat ses maande lank geen verdere beton gegiet nie sodat inkrimping van die nuwe beton eers kon plaasvind. Danksy die skuiflas is die spanning wat deur hierdie inkrimping veroorsaak is, nie na die oorspronklike walstruktuur oorgedra nie.
Vir die derde en laaste fase is die res van die oorspronklike betonvlak van die damwal skurf gemaak (soos vir fase een), en die nuwe beton is direk daar teenaan gegiet om sodoende 'n monolitiese struktuur te vorm. Die uiteindelike produk was 'n damwal wat aan aIle moderne tegniese standaarde voldoen. Om 'n verdere verhoging van vier meter in die toekoms te vergemaklik, maak die ontwerp daarvoor voorsiening dat kruinsluise aangebring kan word.
Die volvoorraadvermoë van die dam is 362 miljoen m3. Die oorloop is ontwerp om 'n vloed van 2886 m3/s veilig deur te laat. Dit is die 1:200 vloed.  Die RMF (“Regional Maximum Flood”) is 7 750 m3 / s en die PMF (“Probable Maximum Flood”) is 14 500 m3 / s.   Daar is in 1989 (Stemet et al. 1989) bevind dat die oorloop die RMF kan hanteer sonder dat die N.O.K.  oorstroom word. Uitlaatwerke is op beide flanke van die damwal gebou. Water word losgelaat in 'n kanaalstelsel wat onder meer 'n besproeiingsgebied van ongeveer 25600 ha bedien. Die totale lengte van die kanale is sowat 480 km.

Doel

Die dam is aanvanklik gebou om in die besproeiingsbehoeftes van die boere in die Olifants-, Moses- en ElandsriviervaIleie te voorsien. Die bou van damme soos die Rondebosch-, Witbank- en Doornpoort stroomop van  Loskopdam het die afloop na laasgenoemde verminder. Dit het tot gevolg gehad dat die lewering van die dam sodanig beïnvloed is dat die damwal verhoog moes word.

Algemeen

Gedurende die middel van die vorige eeu het die eerste Voortrekkers hulle in die Kruisriviervallei, nie ver van waar Loskopdam vandag is nie, gevestig. Die eerste plase in die Olifantsriviervallei is reeds in 1886 afgebaken en die boere het koringlande onder droëlandtoestande verbou. In 1917 is die eerste privaatdam op die plaas Rooikraal voltooi.
Danksy besproeiing het die koringopbrengs op die plaas van 150 tot 8 000 sak per jaar vermeerder. Omstreeks 1925, na die suksesse van die klein besproeiingskemas, is die Hereford­besproeiingsraad gestig om 'n gebied van ongeveer 2 140ha wat enkele kilometer stroomaf van die huidige Loskopdam geleë was, te bedien. Die vroeë sukses van hierdie skema het daartoe gelei dat daar, na 'n versoekskrif, studies oor die Herefordskema sowel as 'n bodemopname en topografiese opmetings van die damkom gedoen is, sodat daar in 1934 met die bou van die dam begin kon word. Die dam is in 1938 voltooi. Die Loskopwaterskema was een van die belangrikstes van die groot aantal besproeiingskemas wat in die dertigerjare hoofsaaklik met hande-arbeid opgerig is.
'n Kissie met die as van lt.-kol. D.F. Roberts, die plaaslike pionier- ingenieur, is oorspronklik op 'n eiland in die dam begrawe. Aangesien die eiland met die verhoging van die wal oorstroom sou word, is die kissie verwyder en in 'n nis op die linkerflank van die damwal geplaas.
Tans bestaan die Loskopwaterskema uit 667 persele van gemiddeld 25,7 ha elk. 'n Volle waterkwota beloop 7700 m3 per hektaar per jaar. Die gewasse wat verbou word is koring, groente, tabak, grondbone, katoen en sitrusvrugte. Verder word water uit die dam voorsien aan die Herefordbesproeiingsraad, die Olifantsrivier­besproeiingsraad  asook aan die Groblersdal- en  Marble Hall-Munisipaliteite.

Ontspanning

Loskopdam is 'n baie gewilde piekniekplek en vakansie-oord. Dit is 'n varswater­hengelparadys in 'n heerlike subtropiese klimaat. Die hele dam Iê binne die grense van 'n natuurreservaat waar krokodille, renosters, seekoeie, koedoes en rooibokke aangetref word. 'n Gewilde vakansie-oord word deur Aventure Forever Resorts op die oewer van die dam bedryf. Met die verhoging van die dam is dele van die oord deur die verhoogde watervlak bedreig en moes gesloop word. Die oord is toe herbeplan en nuwe fasiliteite is opgerig om die geslooptes te vervang.

Opsomming


Jaar van voltooiing 1938; Verhoog in 1979
Doel Besproeiing, Huishoudelik, Nywerheid
Rivier Olifantsrivier
Naaste dorp en provinsie Groblersdal, Mpumalanga
Tipe boumateriaal Massabeton
Netto opgaarvermoë 348 miljoen m3
Walhoogte bokant laagste fondament 54 m
Kruinlengte 506 m
Volume materiaal in damwal - oorspronklike en verhoogde wal 415 000 m3
Tipe oorloop Onbeheerd
Oorloopvermoë 7750  m3/s
Oppervlakte van dam by volvoorraadhoogte 2350 ha
Eienaar, ontwerp en konstruksie Departement van Waterwese


Loskopdam is 'n gesamentlike gewig & boog tipe dam geleë op die Olifantsrivier, naby Groblersdal, Mpumalanga, Suid-Afrika. Dit is in 1939 gestig en is in 1979 opgeknap Die dam is geleë in die Loskop Dam Nature Reserve en dit dien hoofsaaklik vir besproeiingsdoeleindes.